geleide taakmag beweeg 3 000 km deur suid-Angola in 33 dae. Ons sien die bloedige gevegte by die dorpie Ebo deur die oë van soldate en bevelvoerders wat daar was.
Episode 6: BRUG 14
`n Onskuldige term soos "skoonmaak" spook vandag nog by sekere soldate. In hierdie episode bou ingenieurs `n brug onder hewige vuur, en honderde sterf in die Afrikason.
Episode 7: `N GEWAAGDE REDDINGSPOGING
Die guerillabeweging FNLA kry bloedneus, en 26 Suid-Afrikaanse soldate raak gestrand by Ambrizete, baie ver van Namibië se grens en veiligheid. Die vloot tree toe tot die bosoorlog en gaan pik hulle op duisende kilometer noord van Kaapstad.
Episode 8: '76: DIE BEGIN VAN DIE EINDE
`n Onverwagte onttrekking uit Angola, en die begin van weerstand aan die tuisfront. Die CIA verloor die stryd in die Amerikaanse Kongres en die geldkrane word toegedraai. In Suid-Afrika weier iemand vir die eerste keer om diensplig te doen.
Episode 9: 32 BATALJON
Kontroversieel, gerespekteer, bewonder, gehaat … onder `n dekmantel van geheimhouding bly die verhaal van 32 Bataljon met sy buffelteken een van die uniekste in die geskiedenis van die oorlog.
Episode 10: DIE GOUE UUR
`n Lewendige bom word uit `n man se borskas gesny … die dokter vertel. In `n oorlog is kontak met die vyand onafwendbaar. Dit beteken gewondes. In 1979 word die SA Geneeskundige Dienste die vierde been van die weermag.
Episode 11: CASSINGA
Een van die mees omstrede aanvalle in die 23 jaar van die Grensoorlog. Ons hoor die verhaal van alle kante, uit die mond van mense wat daar was.
Episode 12: ONS SAL LEWE, ONS SAL STERWE
`n Moeder verloor `n seun. Een van soveel moeders, een van soveel seuns. Hy was `n parabat, wat die gesogte valskermvlerkies met diepe trots verower het. Ons hoor die verhaal by sy ma, en by die soldaat in wie se arms hy gesterf het.
Episode 13: `N SPOOR IN DIE SAND
Die veldvernuf van Swapokaders en Boesmansoldate word teenoor mekaar gestel. In die aanhoudende soeke na nuwe antwoorde op die uitdagings wat die oorlog in die bos aan die soldate stel, word honde ingespan teen landmyne en gesofistikeerde militêre voertuie ontwikkel. Langs die wetenskaplikes staan `n ander vermoë: die mense wat die veld lees soos `n boek.
Episode 14: HAKKEJAG
`n Oud-Sowjet amptenaar skets die invloei van Russiese instrukteurs en wapentuig vir Swapo en Fapla, wat saam met Kubaanse ondersteuning hulle vermoëns verhoog. 32 Bataljon se Portugees-sprekende Angolese lede vertel van die hardste geveg in die eenheid se geskiedenis: Savate. En met die bewindsaanvaarding van pres. Ronald Reagan in die VSA, kom "linkage" - onderhandelinge oor die onttrekking van die Kubane – op die tafel.
Episode 15: SWAAR METAAL (PROTEA 1)
Aan weerskante van die skeidslyn word swaarder en beter wapens ingevoer en ontwikkel. Suid-Afrika beplan die grootste konvensionele aanslag ooit in die grensoorlog teen die gekombineerde magte van Fapla, die Kubane en Swapo.
Episode 16: YSTERVUISTE (PROTEA 2)
Soldate wat daar was, vertel van die presiese beplanning, die dapperheid van individue en die chaos wat oorlog is. Vroue by die huis gee `n aanduiding van hoe groot die kloof tussen die huis en die front geword het.
Episode 17: REBELLE, WEIERAARS EN VERRAAIERS
Een wit seun kies umKhonto we Sizwe bo diensplig, word opgelei in Oos-Duitsland en kry `n bevel om `n bom te plant. `n Ander vertel met bitterheid en selfverwyt hoe sy grensdiens hom voor onmoontlike keuses gestel het.
Episode 18: O, EK VERLANG NA JOU
Sonja Herholdt, André Swartz, Karin Hougaard, Ollie Viljoen en Anneline Kriel is onder die kunstenaars en bekendes wat die grens besoek het om die manne te vermaak. Hulle vertel.
Episode 19: BROER TEEN BROER
In Ovamboland kom broer teen broer te staan: sommige kies om in die SAW te dien, ander veg vir Swapo. Onder wit Suidwesters woed `n politieke stryd, onder meer oor die oopstel van geriewe vir alle rasse. Suid-Afrika hou sy "vyfde provinsie" aan `n kort leisel vas.
Episode 20: KOEVOET
Oud-Koevoetlede praat reguit oor betaling per kop vir elke "terroris" wat hulle geskiet het, oor liggame oor die wiel van `n Casspir vasgemaak, en oor hulle ysingwekkende effektiwiteit.
Episode 21: ÊRENS AAN DIE GRENS
In die vroeë tagtigs is gemiddeld 30 000 troepe "êrens aan die grens", in `n reeks kampe diep in die bos, baie ver van die huis af. Op Fort Doppies maak hulle `n leeu mak, Veenhala het Gabi die sebra, en by Calueque is `n mak krokodil bekend as die plat hond.
Episode 22: OPERASIE KERSLIG
Kom saam op `n spesmagte operasie: 16 hoogs opgeleide operateurs gaan in die bek van die vyand in om die olieraffinadery in Luanda-hawe op te blaas. Hulle verloor een van hulle makkers in `n ontploffing, maar die ander kom terug en vertel self die verhaal.
Episode 23: WAPENBROERS
Wat het gebeur toe Wynand du Toit by Cabinda gevang is? Hoekom het Unita altyd sabotasie-aksies vir hulle toegeëien, as dit Suid-
Afrikaners was wat dit uitgevoer het? Hoekom het die Kubane eintlik Angola toe gekom, en wie het die koste betaal? Ons ontrafel die vrae rondom wie aan wie se kant was, en waarom.
Episode 24 : TWEE FRONTE
1985. Die townships brand. 35 000 troepe word ingestuur om die polisie te ondersteun. Grootskaalse weerstand teen diensplig ontstaan. Intussen loods Fapla `n aanslag in suidoos-Angola, wat deur die SA Lugmag afgeslaan word.
Die druk bou op, binnelands en buitelands.
Episode 25: CUITO CUANAVALE
Wat presies het in 1987 en '88 in die gevegte rondom die dorpie Cuito gebeur? Was daar `n oorwinnaar? Ons volg die gevegte week na week en maand na maand – oorkoepelend, maar ook uit die intens persoonlike oogpunt van twee soldate in die hitte van die stryd. Bloedige gevegte woed. Ingewikkelde onderhandelinge word gevoer. Wynand du Toit kom huis toe.
Episode 26: VUISVOOS
Kuba slaan `n laaste hou met `n aanval by Calueque in suidwes-Angola. Intense onderhandelinge lei na `n vredesooreenkoms. Swapo maak `n amper fatale fout en begin `n 9-dae oorlog … maar Namibië word gebore.